Die lewe is regtig nie altyd maklik nie.
Dikwels is dit soos ‘n kraaines wat jy nie ontrafel kry nie.
Onverstaanbare en onverklaarbare dinge gebeur in ons lewens.
Dood van ‘n kind, hospitalisasie, chroniese siekte, ongeneeslike siekte,
Verloor onverwags jou werk, of “alles wat jy het”….

Dikwels ook krisis op krisis.
Maar telkens as die hardheid van die lewe toeslaan,
stuur die Here belofte na belofte.
Wanneer dit, soos Totius dit sê,
vir jou voel asof jy in ‘n doringbos rondtas,
dan is die Here steeds daar, vir jou!

Hy beantwoord regtig jou gebede.
Al voel dit nie vir jou so nie,
of al is dit nie presies soos jy dit wil hê nie.
Hy luister en doen volgens sy wil vir jou.
Hy los jou nie!
Hy gee nuwe lig en hoop.
Jy is baie meer werd as mossies.

Kyk net wat sê die Here oor mossies:
“Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie?
En tog sal nie een van hulle op die grond val,
sonder die wil van julle Vader nie.
Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel.
Moet dan nie bang wees nie.
Julle is meer werd as baie mossies.” Matteus 10:29-31.

Al raak dit ook vir jou hoe moeilik en onverstaanbaar,
onthou die Here se Naam is: “Ek is!”
Hy is God oor alles en almal!
Jy is vir Hom alles werd!
Hy los jou nie!

Ernest