"Laat julle inskiklikheid aan alle mense bekend word,
die Here is naby!".
Fil 4:5
Paulus en Silas sit in die tronk in Filippi .
Hulle het daar beland vanweë valse beskuldigings.
Hulle sit nie en kry hulleself jammer nie,
maar sing lofliedere tot God se eer!
Die son gaan onder, en almal gaan slaap.
Skielik kom daar 'n aardbewing.
Boeie raak los,
die tronk se deure skud los.
Die gevangenes kan ontsnap!
Die tronkbewaarder word wakker en sien die oop deure.
Hy besef die gevangenes waarvoor hy verantwoordelik is, het ontsnap.
Voor die owerhede hom daarvoor verantwoordelik hou,
wil hy sy eie lewe neem.
Paulus en Silas roep uit:
"Moet nie jouself leed aandoen nie,
want ons is almal nog hier!".
(Hand 16:28)
"Inskiklik" beteken om nederig-genadig te wees.
Dit is die teenoorgestelde van "op jou reg staan".
Dit is om vriendelik te bly,
al doen ander jou onreg aan.
Om akkommoderend te wees,
al hoef jy nie.
Jesus self het die pas aangegee toe hy bid:
"Vader vergewe hulle,
want hulle weet nie wat hulle doen nie".
Paulus skryf die Filippense-brief,
juis toe hy weer in 'n tronk sit!
Hy vertel hulle dan die geheim van hoe om inskiklik te bly.
Hy sê vir hulle:
"Onthou net:
die Here is naby!"
Hy is daar saam met ons in ons pyn,
daarom kan ons lofliedere sing.
Sy wederkoms is naby,
dán gaan daar reg geskied.
Daarom is dit nie nodig om nóú te baklei nie.
Daarom kan ons bekostig om inskiklik te wees.
"En wat julle ook al doen,
doen dit van harte
soos vir die Here
en nie vir mense nie"
Kol 3:17
Ashton