Elkeen van ons is deel van die Kerk van ons Here Jesus Christus. Die sigbare en/of die onsigbare Kerk. Kerkwees is tog nie net ‘n spesifieke gemeente of denominasie nie, maar om deel te wees van die Ekklesia – die uitgeroepenes van God en die Qahal Jahwe – die vergadering/byeenkoms van die Here. Kerkwees (amptelik of nie-amptelik) weerspieël ons deelwees en deelhê aan die liggaam van Jesus Christus en die voorreg en verantwoordelikheid om as boodskappers en ambassadeurs van God in hierdie gebroke wêreld op te tree. Dit is deel van ons identiteit en roeping hier op aarde.
Wanneer Jesus Christus met sy eerste dissipels oor sy identiteit praat, vra Hy eers vir hulle wie die mense dink en sê Hy is. ‘Toe Jesus in die streke van Sesarea-Filippi kom, het Hy vir sy dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?”’ (Matteus 16:13). Hulle antwoord Hom met baie moontlikhede: “Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete.”’ (Matteus 16:14).
En dan kom Jesus by ‘n baie meer persoonlike vraag aan sy dissipels, sy eerste uitverkorenes: “Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?” (Matteus 16:15). En Simon Petrus, die grootmond-dissipel antwoord in die kol: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” (Matteus 16:16). Wat ‘n raakvat belydenis! Hy sê presies Wie Jesus is, waarvandaan Hy kom en wat Hy kom doen het. Merkwaardig!
Jesus se reaksie op sy geloofsbelydenis is treffend en raak elke gelowige, God se kerk. Dit beteken ook ek en jy. Matteus 16:17-19: “Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie ’n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is. En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.”
En hiermee vestig Jesus die fondasie van sy kerk, die basis van kerkwees. Dit gaan nie oor Petrus (Rots) as persoon nie, maar oor die belydenis: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” Jesus Christus is die Messias, die gesalfde Verlosser wat gestuur is om die mensdom van ons sondes te bevry. Hy is God self wat Hom aan ons openbaar en Homself vir ons opoffer om ons te verlos. Jesus Christus! Dit is die onderbou van die kerk – Wie Jesus is...
Glo jy en kan jy ook soos Petrus verklaar: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”? Gaan bou dan op hierdie Rots en erken Jesus Christus as die gestuurde Verlosser op Wie jy jou hele lewe bou, saam met alle mede-gelowiges, God se Kerk!
Vrede!
Nelius