Daar is baie beelde wat God in sy Woord gebruik om die kerk mee te beskryf. Hierdie beelde is enersyds ‘n aanduiding van die identiteit van die kinders van God (sy kerk) en andersyds ‘n uiteensetting van die roeping van die kerk as God se uitgeroepenes.
In ons spreektaal praat ons van die kerkgebou as die kerk. Ons gaan kerk toe... Maar eintlik is ons die kerk – die kerkgebou! Ons gaan nie kerk toe nie, ons is die kerk! Almal van ons is deel van die kerk van ons Here Jesus Christus, en die kerk word op Hom as fondament gebou. Hy is beide die fondasie en die hoeksteen van die kerk. Die hoeksteen is die eerste steen/klip van die fondament wat gelê word, wat moet verseker dat ‘n gebou waterpas en haaks is.
Een van die maniere waarop die Woord die kerk beskryf vind ons in 1 Korintiërs 3:9: “Julle is ook die gebou van God.” Maar nie sommer net enige gebou nie. ‘n Bietjie verder word dit nog skerper gekwalifiseer. “Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom straf, want die tempel van God is heilig, en die tempel is julle.” (1 Korintiërs 3:16+17). Hier word God se kerk nie bloot as ‘n gebou beskryf nie, maar as ‘n tempel! ‘n Heilige Gebou! Die gebou van die lewende God!
En elkeen van ons is ‘n lewende steen in die gebou van God. Mense wat deur God opgebou word, maar ook gekies word om geestelike bouers te wees! “Kom na Hom toe, die lewende steen, wat deur die mense afgekeur is, maar deur God vir die ereplek uitverkies is. Laat julle as lewende stene opbou tot ’n geestelike huis, om ’n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.” (1 Petrus 2:4+5).
En dan vermaan God se Woord in 1 Korintiërs 3:10-13 ons om met versigtigheid en uitnemendheid te bou. “Volgens die genade wat God my gegee het, het ek soos ’n goeie bouer die fondament gelê, en ’n ander bou daarop. Maar hy moet mooi kyk hoe hy verder bou, want niemand kan ’n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus. Of dit goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi is waarmee iemand op die fondament bou, elkeen se werk sal aan die lig kom. Die dag wanneer Christus kom, sal dit duidelik word. Die dag kom met vuur, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk toets.”
Ons is die “gebou”, die tempel waar God leef! Waar Hy ontmoet en aanbid kan word. Waar Hy gesoek en gevind kan word. Waar Hy ons ontmoet en vestig in ‘n lewende verhouding met Hom. Waar Hy ons toerus om geestelike bouers te wees wat inbou in ander se lewens met Hom as onderbou. Gaan wees dan kerk/kerkgebou, waar jy ook al is – deel van die tempel van die lewende God!
Vrede!
Nelius