Daar is verskeie beskrywings wat die Bybel gebruik vir die kerk. Al hierdie uiteensettings vertel iets van die identiteit, wese en roeping van die kerk. Die kerk is onder andere die liggaam van Jesus Christus en Hy is die Hoof daarvan!
Maar Jesus sê vir hulle: “Dit verseker Ek julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie. Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. My liggaam is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank. Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. (Johannes 6:53-56).
Die beeld van die liggaam begin alreeds by die Nagmaal. Die nagmaal is ‘n sakrament – ‘n geloofsversterkende teken - wat die Here vir ons gee om ons te help met ons geloof. Die beeld van die liggaam gaan dus eerstens oor Jesus Christus, God wat mens geword het, maar tweedens ook oor ons as sy kerk.
Die beker van danksegging, waarvoor ons God dank, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie? Omdat dit een brood is, is ons, al is ons baie, saam een liggaam,...” (1 Korintiërs 10:16+17). Natuurlik is Jesus self die leier, die hoof van sy liggaam. Efesiërs 1:22+23 stel dit so: “Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.”
En so verbind die Woord ons (die kerk) met Jesus Christus as sy liggaam. Dit maak ons wie ons is (identiteit), maar gee ook aan ons ons goddelike roeping. Twee Skrifgedeeltes wat meer hieroor vertel is Efesiërs 4:15+16 en 1 Korintiërs 12:12-14: “... ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ’n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.” En: “Net soos die liggaam ’n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus. Omdat ons almal een liggaam geword het, is ons almal met die een Gees gedoop, of ons nou Jood of Griek is, slaaf of vry. Ons is almal van die een Gees deurdrenk. Die liggaam bestaan ook nie net uit een lid nie, maar uit baie.”
Liggaam en ledemate... Elke gelowige het ‘n unieke plek en funksie in Jesus se liggaam. Hy is die Hoof en ons die lede(mate). Julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik is elkeen ’n lid daarvan. (1 Korintiërs 12:27). Dit impliseer dat ons deel is van ‘n groter geheel en dat onderlinge verhoudings kardinaal is, maar ook dat elkeen van ons sy/haar plek moet volstaan in die liggaam van ons Here Jesus Christus. Kom ons wees dan sy liggaam wat die leiding van ons Hoof, Jesus Christus volg!!!
Vrede!
Nelius