Die Here sê vir Jona:
"Is dit reg dat jy kwaad is?"
(Jona 4:4)

Die Assiriërs was wrede mense.
Hulle het stede beleër sodat die inwoners só honger word
dat hulle hul eie kinders moes eet!
Wanneer hulle stede ingeneem het,
het hulle duisende mense tereggestel,
en hulle geliefdes forseer om te kyk.
Die mense wat oorgebly het, was in ballingskap weggevoer,
na vreemde plekke toe, weg van alles en almal wat hulle ken.

Jona het hierdie wreedheid eerstehands ervaar.
Sy woede teenoor die Assiriërs het diep binne hom gebrand.
Hy het gedroom van die dag wat hierdie wreedaards kry wat hulle verdien!

En nou besluit die Here om vir die Assiriërs 'n tweede kans te gee,
eerder as om hulle te straf!?

Natuurlik het Jona die reg om kwaad te wees!
Waar is die geregtigheid vir al die slagoffers?
En hoekom moes God juis hóm gebruik om sy vyande te red?

Die Here los nie vir Jona daar nie.
Hy wys vir hom wat dit beteken om besorg te wees oor iets of iemand.
Dan wys hy vir hom hoe ook die inwoners van Nineve Sy kinders is,
oor wie Hy Hom ook ontferm.

Woede maak dat ons net op ons eie perspektief fokus.
Dan vergeet ons dat ander mense ook lief en leed,
hartseer en vreugde,
drome en teleurstellings het.

Soos 'n vuur versprei woede deur ons gedagtes, woorde en optrede.
Dit steek ander ook aan,
en maak dat hulle ook perspektief en empatie verloor.
Uiteindelik leef almal met die gesindheid:
"Elkeen vir homself,
en die duiwel vir die res!"

Die Here sien ons pyn,
Hy verstaan ons woede.
Maar Hy laat die vuur nie toe om voort te brand nie.
Deur sy Gees, gee hy vir ons perspektief en medelye,
ook vir die mense wat ons onreg aangedoen het.
En dan beveel Hy ons:

"Raak van al hierdie dinge ontslae:
woede,
driftigheid,
kwaadwilligheid,
lastering,
en onwelvoeglike taal wat uit julle mond kom."
(Kol 3:8)

Ashton