“Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie. In alles word ons verdruk, maar ons is nie teneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie.” [2 Korintiërs 4:7-9].
Wat is klei?
Van die vroegste tye af gebruik mense klei om beelde en vase te maak vir gebruik of vir versiering. Klei is die produk van grond-erosie. ‘n Baie fyn stof wat deur grondspesialiste “klei” genoem word.
Ons lees in God se Woord op verskillende plekke van klei. In Jeremia 18:1-6 lees ons van die profeet wat na die Pottebakker se huis moes gaan. Ons lees dat ons klei is in die hand van die Pottebakker, dat ons breekbaar is, baie keer misluk en oorgemaak moet word. Maar nêrens lees ons dat die Pottebakker moed opgee nie. Ons is kosbaar in Sy oë en Hy wil betrokke wees in elke faset van ons lewens.
Ons is baie kere maar soos ongebreide klei wat oor en oor op die draaiwiel gevorm moet word. Met tere liefde en geduld gryp God in wanneer ons bykans flenters gebreek is deur die omstandighede van die lewe.
Dan kom tel Hy ons op in ons gebrokenheid en maak ons heel en bruikbaar vir Hom. Ons moet vrywillig toelaat dat God wat in ons woon, ons hervorm na Sy wil.
“Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek….”
Carina Fracke skryf:
“Wát of wie is die skat en wat is die waarde daarvan? Die Skrif het 'n verrassende antwoord: “Dit is die alomteenwoordige Christus – die Gesalfde Een met lewegewende openbaar-makende Heilige Gees krag in ons. Deur ons geloof in Jesus Christus wat ons vrygekoop het aan die kruis, het ons onder andere deelgenote geword van die Goeie Nuus, die Nuwe Verbond, 2 Korintiërs 3:17, die Evangelie van Jesus Christus – ons Waarborg; die Lig van die Evangelie en die heerlikheid van God. [2 Korintiërs 4:3-4].
Laat Hom dan toe om jou te vorm tot ‘n bruikbare, Geesvervulde kind van God!
~Marie
Klei in U hande
- Details