Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.” En daarna sê Hy: “Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar.”

Ons raak almal opgewonde oor nuwe dinge.

‘n Nuwe huis, ‘n nuwe kar, werk, vriende, klere... Ook nuwe vooruitsigte. Dit is ook goed so. Die Here wil hê dat Sy kinders bly en dankbaar moet wees oor die dinge wat hulle uit Sy hand ontvang.

Nuut in die Bybel

In die Bybel lees ons ook op verskeie plekke waar die Here nuwe dinge vir sy volk belowe.

In Jesaja 62:2 beloof die Here vir Jerusalem ‘n nuwe naam:
“Die nasies sal sien dat jy gered is,Jerusalem,
al die konings sal sien dat jy mag het.
Jy sal 'n nuwe naam kry”

En in Jeremia 31:31 ‘n nuwe verbond:
Daar kom 'n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda 'n nuwe verbond sal sluit.
Die Nuwe Testament belowe ook nuwe dinge vir die gelowiges.

Lukas 22:20: Met die beker na die maaltyd het Hy net so gemaak en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word.

Efesiërs 2:15: Die wet van Moses met al sy gebooie en bepalings het Hy opgehef, en deur vrede te maak, het Hy in Homself dié twee, Jode en nie-Jode, tot een nuwe mensheid verenig.

Openbaring 21:5: Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.”

Die Here maak nuut! En dis wat Hy doen met elkeen wat in geloof na Hom toe gaan. Dit maak nie saak hoe gebroke of oud jy is nie. Eensaam en moedeloos. Verstote sonder hoop. God wag met ope arms om jou op te tel en jou nuut te maak. Hy wag dat jy sal kom soos die verlore seun wat na sy Vader terugkeer. Hy sal vir jou ‘n nuwe kleed aantrek en jou trane afdroog.

Die Here wil jou nuut maak!

~Marie