Jesus sê in MATTEUS 11:28 “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” So nooi die Heer vir jou en vir my om te kom net soos ons is . Uitgeput en oorwerk. Kom word stil by sy voete

Hy gee rus. Hy droog ons trane af en maak ons stukkende kruike weer heel en vul dit met Sy onuitspreeklike genade en liefde. Kom rus by Hom. Hy gee vrede, vreugde en blydskap...gratis en verniet.

JESAJA 55:1 Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk. Hy maak skoon en nuut. Vertrou Hom vandag met alles wat seermaak en hinder.

Hy roep jou op jou naam. Jy is syne van die grondlegging van die aarde af. JESAJA 43:1b sê “Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.”

Hy ken jou en my deur en deur. Hy weet alles van jou af. Ja dis waar...
PSALM 139:3 Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend.

Hy skenk die lewende water waarna almal dors. Hy breek die sondebande wat so knel en bind en stuur ons dan as verlostes uit om te gaan vertel van redding en vry-wees. Waarlik vry! Deur Jesus Christus ons Verlosser!

U wat blindes laat sien en kreupeles laat loop het,
Ons weet dat U van ewigheid af dieselfde is.
Ons kom na U sodat U ons kan aanraak en
ons geestelike doodsheid genees.
Om ons besige lewens te kalmeer met die krag van U heelmakende genade, dat ons weer kan leer om stil te word by U voete.
Gee ons geestelik-gesonde ore om te kan hoor wat U ons in U
Woord van liefde wil leer. Here, ons wil wat U wil...
Amen.

~Marie