Ons lees in die Woord so baie van esels - donkies. Veral die Ou Testament het feitlik al die welgestelde mense baie donkies gehad. Hulle is gebruik vir pakdiere wat allerlei goed moes vervoer maar daar is ook op donkies gery.

Die mees aangrypenste teks oor ‘n donkie is sekerlik die voorspelling in SAGARIA 9:9 “Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Jou koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en hy is 'n oorwinnaar, hy is nederig en hy ry op 'n donkie, op die hingsvul van 'n donkie.” Jesus ons Koning ry Jesusalem binne op ‘n donkie. Hy weet wat vir Hom wag en Hy weet hoekom Hy dit moet doen. Hy ken die gebrokenheid van die mensdom. Hy weet dat slegs deur Sy bloed en lyding mense verlos kan word van die ewige dood. Hy is gehoorsaam aan God Sy Vader.

Vooraf reël Hy self met sy dissipels om vir Hom ‘n donkie te gaan haal waarop Hy sy laaste reis op aarde sal aandurf: MARKUS 11:2 “Gaan na die dorpie daar reg voor julle, en net soos julle inkom, sal julle daar 'n jong donkie vasgemaak kry. Geen mens het nog op hom gery nie. Maak hom los en bring hom hier." Hulle het gegaan en dit gevind soos Jesus hulle gesê het. Hy het ook ‘n opdrag daarby gegee: LUKAS 19:31“En as iemand vir julle vra: ‘Waarom maak julle hom los?’ moet julle antwoord: Die Here het hom nodig.”

Het ons nie ook dikwels nodig om losgemaak te word van dinge wat ons so vasbind en keer om volheid te leef nie? Wat bind die mensdom dat God al minder word en die mens meer. Slegte gewoontes: selfsug en liefdeloosheid, alkohol, ‘n leuen hier en ‘n vloekwoord so nou en dan. Ontrouheid en oneerlikheid of sommer net doodeenvoudig ‘n laksheid wat maak dat ons die Woord nie meer lees nie.

Ons gebedslewe verwaarloos en dan selfs biddeloos raak, ‘n te besige program wat maak dat ons, ons dierbares afskeep Die Here wil ons ook losmaak, want Hy het ons nodig. Laat toe dat God weer op die troon van jou hart kom sit. Doen ‘n slag introspeksie. Wat is daar wat jou vasbind? Laat toe dat God jou losmaak. Die Here het jou nodig en wil jou gebruik! Ons is God se donkies...

~Marie.