Somertyd is see-tyd!
Wintertyd is widtuin-tyd!
So hoor ons dikwels mense praat.
Dit laat ons dink aan mense se liefde vir die skepping.
Maar daar is ook mense wat eenvoudig die skepping verniel,
wat dit as’t ware plunder vir eie gewin.
Hoe lief het jy God se skepping, namens Hom!?
God het my tog geskep as sy verteenwoordiger op aarde!
Genesis 1:27.
Wanneer ons Johannes 3:16 lees,
dan dink ons die woorde “God het die wêreld so liefgehad…”
verwys net na mense.
Natuurlik sterf Jesus vir ons…sodat ons nie verlore sal gaan nie,
maar die ewige lewe sal hê.
Maar dit is belangrik om daarop te let
dat die Grieks in Johannes 3:16 sê “ton kosmon”,
met ander woorde die kosmos!
“God het die kosmos so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het…”
Die hele skepping.
God kom herstel in Christus die hele skepping.
Openbaring praat ook van nuwe hemel en nuwe aarde!
God se liefde gaan nie net oor mense nie.
In die verhaal van Noag sluit God na die groot vloed
‘n verbond dat Hy nie weer lewe só sal vernietig nie.
In Genesis 9:9-11 sluit die verbond die mense,
voëls, mak en wilde diere in.
God sê ook daar sal nie weer ‘n oorstroming wees wat die “aarde”
sal oorweldig nie.
In vers 13 sê God die reënboog sal ‘n teken wees van die verbond,
tussen Hom en “die aarde.”
Ook in die Nuwe Testament lees ons dat “die skepping”
met gespanne verwagting uitsien daarna
dat God bekend sal maak wie sy kinders is! Romeine 8:19-21.
“Die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan verganklikheid…”
Die Skepper bly die enigste Een wat aanbid moet word.
Maar dit is baie belangrik dat ons moet weet;
vir die Skepper is sy hele skepping belangrik!
Ons besorgdheid oor God se skepping,
is ‘n uitvloeisel van die liefdesgebod.
Hoe ons die skepping bewerk en versorg, namens God,
het ook ‘n direkte gevolg op ons volgende geslagte, ons medemens!
Verteenwoordig God in sy skepping!
Ernest