die vrug van die baarmoeder is 'n beloning".
(Psalm 127:3)
Die Hebreeuse terme vir "erfdeel" (nagelah) en "beloning" (sakar)
word hier in 'n tegniese sin gebruik.
In die Bybel se tyd het ryk grond-eienaars hulle grond onderverdeel,
en aan arm boere "geleen".
So het elke boer 'n "erfdeel" gekry.
Aan die een kant was dit 'n gawe,
want daaruit kon die boer vir homself sorg.
Aan die ander kant het die boer ook die verantwoordelikheid gehad
om die grond te bewerk en 'n gedeelte van die opbrengs aan die eienaar te gee.
In hierdie psalm is God die grondeienaar.
Alle mense hoort aan hom!
Hy onderverdeel dan hierdie mense in "families",
en gee aan ons elkeen 'n "erfdeel".
Aan die een kant is hierdie 'n gawe.
Familie tel ons op wanneer ons val;
is daar in ons eensaamheid;
moedig ons aan wanneer ons wil presteer;
help uit wanneer ons sukkel.
Aan die ander kant is familie 'n verantwoordelikheid.
Familie is daardie groep mense teenoor wie God vir ons 'n besondere taak gegee het.
Daarom is die Bybel vol bevele oor hoe ons hierdie mense moet behandel.
"Eer jou Vader en jou moeder" (Eks 20:21)
"Moenie julle kinders kwaadmaak nie" (Ef 6:4)
"Wees onderdanig aan mekaar uit ontsag vir Christus" (Ef 5:21)
Hierdie taak is soveel 'n roeping as enige ander "geestelike" roeping,
soos om 'n diaken, ouderling of sendeling te wees.
Ons mag nie ons families afskeep,
ter wille van "God se werk" nie,
want om na ons families om te sien,
is deel van daardie werk!
Paulus waarsku vir Timoteus om nie kerkleiers aan te stel,
wat nie ordentlik vir hulle eie families sorg nie,
want
"hy het die geloof verloën,
en is slegter as 'n ongelowige" (1Tim 5:8)
"Slegter" in die sin dat so 'n persoon sy godgegewe roeping
om na sy familie om te sien,
slegter verstaan en nakom as ongelowiges.
Ashton