Wanneer ek oor draadwerk dink, dink ek onwillekeurig oor ‘n Ford, oor draadkarretjies op die plaas en oor die bekende ou liedjie: My ou oupa het ‘n Ford, a A oe, A a oe, A A oe hoe A... Hy ry nes ‘n regte lord, A A oe, A a oe A A oe hoe A..., riketik, riketik, om die draai...ens.

Nie dat ‘n Ford ‘n slegte voertuig is nie, inteendeel, ek ry self een – ‘n (ou) 3L Ford Ranger bakkie - en sal hom vir niks in die wêreld, behalwe miskien vir ‘n ander Ford, verruil nie! Verder verlang ek na die goeie ou dae toe ‘n mens nog ‘n Ford met ‘n tang en draad kon regmaak.

Maar draadwerk kan ook ‘n negatiewe betekenis hê. As iemand sê of vra: Is jy vol draadwerk? is die vraag of stelling eintlik, is jy vol nonsens of hoekom is jy so vol nonsens? As iemand moeilik is, of sommer net aspris, of ingewikkeld/moeilik om te hanteer, dan is jy vol draadwerk. Dan is jy soos ‘n kraaines van saamgebondelde draad, wat koek en steek en seermaak.

God se Woord het egter ‘n ander perspektief op jou en my draadwerk.

In Psalm 139:13-15 lees ons: U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker: geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot.

Ek en jy is dus, al is ons soms so vol draadwerk, kunstige-, unieke- en outentieke kunswerke van God, deur Hom bedraad en aanmekaar geweef! Amper soos die draad en kraletjies van ons (Suid)-Afrikaanse-kuns. Armbande, ringe en oorbelle. Juwele in God se hand. En dit beteken dat ons kunstig en spesiaal geskep is deur ons Skepper-Vader, al is ons soms vol draadwerk.

Gaan dus op jou knieë en dank God vir wat en hoe Hy jou gemaak het, en gaan leef in en uit en deur sy teenwoordigheid, al is jy soms vol draadwerk!

Vrede!
Nelius