"En skryf aan die boodskapper van die kerk in Laodisea:
So sê die 'Amen',
die geloofwaardige en ware getuie,
die begin/heerser van die skepping van God".
(Open 3:14)
Die kerk in Laodisea was anders as die ander gemeentes wat in Openbaring genoem is.
Hulle het nie swaar gekry nie,
en was nie vervolg soos hulle buurgemeentes nie.
Hulle was skatryk,
het die beste klere gehad,
en goeie mediese sorg ontvang.
Hierdie gemeente het gemeen hulle voorspoed maak hulle goeie getuienisse.
As die wêreld hulle voorspoed sien,
sal die wêreld weet hoe wonderlik Christenskap is!
Sekerlik sal Jesus baie tevrede wees met hierdie gemeente.
Maar dan stuur Jesus vir die gemeente 'n boodskap:
"Ek is op die punt om julle uit my mond uit te spoeg" (v16)
Die Griekse woord vir "spoeg" is eintlik "opgooi".
Kortom sê Jesus vir hierdie gemeente:
"Julle maak my naar!"
Jesus self is die toonvoorbeeld van hoe 'n ware getuie moet lyk.
En Jesus het gely!
Jesus se dissipels het gely!
Laodisea se buurgemeentes het gely!
Alles vanweë hulle getuienis.
Laodisea se voorspoed is eerder 'n teken daarvan dat hulle selfvoldaan is.
Hulle is nie in die moeilikheid met die owerhede nie,
want hulle gee nie om om afgode te vereer nie.
Hulle het baie goud vergader,
want hulle het dit nie gedeel nie.
Hulle is gesond,
want die owerhede het hulle nie gemartel soos hulle buurgemeentes nie.
Dit gaan nie goed met ware getuies nie.
Martin Luther, moes vir sy lewe vlug.
Emily Hobhouse, was deur haar landsgenote gehaat.
Onlangs, in ons eie land kry "wistleblowers" gif in hulle koffie.
Om 'n ware getuie te wees,
beteken ons gaan gehaat, vervolg en verarm word.
Maar Jesus, die Amen, die ware getuie,
getuig ook van die verheerliking, die beloning, wat vir ons wag.
Net soos Jesus gely het, sal ons ook ly.
En net soos Jesus verheerlik was, en nou aan die regterhand van God sit,
sal ons ook verheerlik word.
Dit is gewaarborg!
Ashton