"En moenie langer gevorm word deur hierdie tydperk nie,
maar word hervorm deur die hernuwing van julle innerlike denke,
sodat julle kan onderskei wat die wil van God is,
wat goed en aanvaarbaar en volmaak is"
(Rom 12:2 - eie vertaling)
Die Griekse woord vir "innerlike denke" is "noes".
Dit verwys na die stemmetjie waarmee ons met onsself praat,
die "ek" wat verantwoordelik is vir die aksies wat ek neem.
Antieke filosowe het goed verstaan
dat morele gedrag uit die "noes" voortspruit.
Die vraag het dan onstaan:
Hoe kan 'n mens jou "noes" beter maak?
Paulus praat hier van twee magte wat ons "noes" kan vorm:
Aan die een kant is daar die invloed van die wêreld:
vriende, die media en die waardes van die samelewing om ons.
Aan die ander kant is die Heilige Gees.
In 'n sekere sin is die Heilige Gees God se "noes" (1Kor 2:11)
Die Heilige Gees woon langs ons eie "noes",
en soos ons Hom toelaat,
transformeer hy dit om meer en meer soos Hom te wees.
Paulus se pleidooi is dus tweeledig:
Eerstens moet ons die wêreld om ons se invloed op ons denke en waardes weerstaan.
Tweedens moet ons ophou om die Heilige Gees se invloed op ons denke en waardes te weerstaan.
In die gedeelte wat volg gee Paulus 'n praktiese voorbeeld.
Die wêreld vorm ons "noes" om prestasie en eer na te jaag,
om meer-en-meer te wil hê;
om beter-en-beter te wil word;
Maar die Heilige Gees, keer ons "noes" weg van prestasie,
en wys vir ons wat ons reeds het,
sodat ons tevrede daarmee kan wees.
Laat ons dan ophou om deur die wêreld om ons gevorm te word,
en laat ons die Heilige Gees toelaat om ons te hervorm!
Ashton