Ek begeer ‘n rein hart

Elke opregte kind van God begeer ‘n rein hart. Maar wat beteken dit om ‘n rein hart te hê. In Esegiël belowe die Here vir sy volk dat Hy vir hulle ‘n nuwe hart sal gee. ‘n Hart van vlees. Hy sal die hart van klip uit hulle binneste haal. Om ‘n rein hart te hê moet ons niks toelaat wat onrein is om daar in te gaan nie. Maar uit ons self kan ons dit nie regkry nie. Gal 5: 19 beskryf ook al die aaklige dinge wat in ons harte kan woon voordat ons lewens aan die Here behoort. Tog is daar die wêreld en al sy versoekings en verleidinge wat gedurig besig is om ons aandag te trek en waarteen ons elke dag moet veg. Soms is ons in geselskap wat nie altyd rein is nie. Ons hoor en sien dinge wat ons maklik kan beinvloed. Die Here gee vir ons riglyne waarvolgens ons moet lewe.

Galasiërs 5:22 Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig.

Ons moet doen wat die die Psalm skrywer so diwels gedoen het. Hy gaan in opregtheid en afhanklikheid na God wat die mens en sy swakheid ken en verstaan. Hy vra wat hy en ons ook begeer om te hê. En God gee sonder verwyt aan Sy kinders wat hulle in opregtheid van Hom vra.

Psalm 51:12 Skep vir my 'n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig.

Ons kan sover moontlik die dinge vermy wat ons harte kan besoedel en onrein maak maar ons hulp kom van God wat die harte van ‘n mens ken en deursoek.

Hebriërs 10:22” Laat ons tot God nader met 'n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van 'n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water.”
Ons sien dus dat slegs God vir ons ‘n rein hart kan gee. Laat ons gedurig daarvoor vra en dan waak oor die dinge wat ons daarin toelaat. Matteus 5:8 “Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.”

~Marie