“Moenie dat hierdie dinge julle te veel ontstel nie.
Julle vertrou mos op God. Vertrou My ook. Skep moed.”
Johannes 14:1.
Die dissipels het goeie rede gehad om bang te wees
toe Jesus sê dat hy weggaan.
Daarom stel Hy hulle dadelik gerus.
Hy sê dat hy die Vader sal vra om vir hulle ‘n Helper te stuur.
Dit is die Heilige Gees.
Wat van vandag?
Hy is steeds in elke gelowige se lewe,
omdat Hy ons van God se liefde wil verseker.
Hy wil ons daarvan leer, Hy wil ons vertroos, en in die waarheid lei.
Ons is nie los takkies wat iewers moet vasgroeiplek kry in die wêreld nie.
As kinders van die Here, wat Jesus as Verlosser ken,
is ons in die Wingerdstok ingeplant.
Sy lewegewende genade vloei elke dag in ons!
En deur ons.
Jesus sê ons moenie soos weeskinders voel nie.
Hy is self by ons.
“Die Gees sal julle nie alleen los nie,
maar by julle wees.” Johannes 14:17.
Eensaamheid maak plek vir eenheid.
Verlange maak plek vir vrede.
Jy self, maak plek vir Hom!
Hy is meer as net by jou,
of aan jou kant.
Hy is deel van my, in my!
Beleef jou eenheid met die Here, deur die Gees.
Ingeplant in Hom.
Eers as jy Hom vind, in jou, vind jy jouself.
Ernest