Die mense in Sodom en Gemorra was sleg en hulle sonde het nie ongesiens by God verby gegaan nie. Toe het God se toorn ontvlam teen hulle.
Genesis 18:20. Toe sê die Here: “Die geroep teen Sodom en Gomorra is hard. Hulle sonde is baie groot!” Maar Lot het genade in die oë van God ontvang want Lot het God gedien. Genesis 19:16 Toe Lot nog talm, het die twee mans hom en sy vrou en sy twee dogters aan die hand gegryp en hulle uit die stad uit gevat, want die Here het Hom oor Lot ontferm.”
Baie male het ek al gewonder oor die vrou waarvan net ‘n soutpilaar oorgebly het. Wat het haar laat omkyk? Nuuskierigheid of was daar dalk nog van haar geliefdes wat sy moes agter laat. Ons sal nooit weet nie. Maar die vraag waaroor ek meer wonder: Wat het sy gesien in haar laaste lewens oomblikke? Genesis 19:26 Lot se vrou het omgekyk en sy het in 'n soutpilaar verander. Vandag sit die boere sout uit vir die beeste om te lek. Is dit al wat van haar oorgebly het...beeslek. dit wat sy gesien het moes afgryslik gewees het. Die skrif sê dit is vreeslik om te val in die hande van die grote God. Genesis 19:28 Toe Abraham in die rigting van Sodom en Gomorra en van die hele vlaktestreek kyk, sien hy oor die hele wêreld trek rook op asof dit 'n steenoond is.
Ek dink ook aan iemand anders wat voor sy dood die wonderlikste gesig gesien het. Handelinge 7.” Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het opgekyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan.“Kyk,” het hy gesê, “ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan.”Terwyl hulle vir Stefanus stenig, het hy geroep: “Here Jesus, ontvang my gees!”Toe het hy op sy knieë neergesak en hard uitgeroep: “Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie!”Met hierdie woorde het hy gesterwe”
Waar gaan die Here ons vind in ons sterwens uur. Ledig op die markplein of besig in die wingerd? Een ding kan God se kinders verseker weet dat waar ons ookal sterf, op ‘n siekbed of ‘n onverwagse dood deur ‘n ongeluk of hartaanval of hoe ookal. God se kinders het niks te vrees nie. Ons sal God sien in Sy heerlikheid en ons kan ook roep” Here Jesus, ontvang my gees!”
~Marie.