Kom van die berg af

Het jy ook al soms gevoel soos Elia. Gewens daar was n besembos naby jou dat jy sommer net daar kan gaan inkruip. Ek weet nie of Elia gehuil het nie maar ek sou sommer net daar bly lê en huil het omdat ek veronreg, kwaad vir alles en almal, misbruik en opgebruik voel. Ek ken iemand wat in ‘n skuimbad gaan klim en lekker lê en huil en dan uitkom met ‘n glimlag! Dit werk regtig. “Elia het in die woestyn onder ‘n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood” – 1 Kon 19:4. En dan is daar ook die “Jona-dae” die” jammer-vir-jouself-dae” Dikbek omdat hy nie sy sin kon kry nie. Omdat God besluit het om mense se lewens te spaar. Hy beskuldig God dat hy geweet het God gaan weer jammer kry. Hy’s dikbek oor die komkommerplant wat gevrek het.
Jona 4:2 Hy het tot die Here gebid en gesê: “Ag, Here, ek het dit geweet toe ek nog in my land was. Daarom het ek reg in die begin na Tarsis toe gevlug. Ek het geweet U is 'n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het.”

Ek haat hierdie soort dae wat sommer ongenooi opdaag en ‘n mens se hele dag omkrap. Jou misrabel en skuldig laat voel en dit alles omdat jy vergeet dat God by jou is en jou weer sal optel na die hoogste hoogtes saam met Hom. Daarom verstaan ek vir Petrus op die berg wat daar en dan drie hutte wou bou en net daar wou bly in die heerlike teenwoordigheid van God en by Jesus. Matteus 17:4 Toe sê Petrus vir Jesus: “Here, dit is goed dat ons hier is. As U wil, sal ek hier drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.” Matteus 17:3 Skielik het Moses en Elia aan hulle verskyn en met Jesus gepraat. Matteus 17:5 Terwyl hy nog praat, het 'n helderligte wolk skielik sy skaduwee oor hulle gegooi, en 'n stem uit die wolk het gesê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom.” Alhoewel dit terselfde tyd skrikwekkend en tog onbeskryflik heerlik moes wees wou Petrus dit vashou. Hy wou nie weer van die berg afgaan na daar waar die lawaaierige volk, wat oor alles kla en mor is nie. Hy wou rustig daar saam met Jesus en die ander bly. Ons wil ook die heerlike aanbiddings oomblike by Jesus se voete uitrek en nie terugkeer na die daelikse sleurwerk of tussen die gewoel van mense wees nie. Helaas moet ons ook soos Petrus van die berg afkom na ‘n wêreld in nood. Hier waar die Here ons in Sy diens geplaas het. Ek het êrens gelees: “Soms moet jy jou God by die Altaar verlaat en Hom tussen die potte en panne vind”

~Marie