Soms kom daar onverwags dinge oor jou pad wat jou wêreld behoorlik op sy kop draai. Dit versteur jou vrede en steel jou vreugde. Jou eerste toevlug is die Here en jy vra dat Hy dit moet wegneem. Maar dan talm die Here te lank na jou sin. Jy beleef ‘n beproewing wat volgens jou te swaar is om te hanteer. Die skrikwekkende wat jy juis nie wil hê moet gebeur nie, gebeur. Daar spruit ‘n bitterheid in jou hart uit. Lees jy dan nie in Spreuke 4:23 “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.” Jy beveg hierdie opstandige woede in jou binneste met gebed, met die Woord, met alles wat jy kan maar die ergernis bly hardnekkig jou lewe versuur.
Ons verstaan nie regtig hoekom hierdie soort dinge met ons gebeur nie. Juis wanneer ons dink dit gaan goed met my hart. Wanneer ek so naby die Here voel. My gebedslewe en verhouding met die Heer so reg is. Petrus Help my om hierdie soort aanvalle te verstaan en my meer waaksaam te maak.
In 1 Petrus 5:8 lees ek: “Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. En moenie vergeet nie: dwarsdeur die wêreld moet julle medegelowiges dieselfde soort lyding verduur.
God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle 'n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak. Aan Hom behoort die krag tot in ewigheid! Amen.”
Dankie Here dat U self U kinders weer optel en versterk. Ons harte weer skoon maak om heilig voor U te mag lewe. Leer ons waak en bid elke dag totdat U kom.
~Marie