"Wat eis die wet van God van ons?"
(HK 4)
"Dit leer Christus ons samevattend in Matteus 22: 37-40:
Jy moet die Here jou God liefhê
met jou hele hart
en met jou hele siel
en met jou hele verstand.
Dit is die grootste en die eerste gebod.
En die tweede,
wat hiermee gelyk staan, is:
‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’
In hierdie twee gebooie is die hele
wet en die profete saamgevat."
In Jesus se tyd het die Skrifgeleerdes debat gevoer oor wat die basis van die wet is.
Wat is die belangrikse gebod,
op grond waarvan ons al die ander moet verstaan?
Sommige het gemeen dit is die besnydenis.
Die belangrikste ding is om deel van God se verbond te wees.
Die wet dan,
leer ons hoe om deel van daardie verbond te bly.
Vandag sal hierdie mense glo dat die belangrikste ding wat ons kan doen,
is om deel van die "kerk" te wees.
En om op te tree soos 'n "kerkmens" moet.
Ander het gemeen die Sabbat is die belangrikste gebod.
God het 'n spesifieke orde ingestel,
en die Wet leer ons hoe om te bly binne daardie orde.
Indien ons buite die orde optree,
kom daar Chaos.
Ons moet werk op werksdae,
en rus op rusdae.
Mans moet hulle hou by manlike take,
en vroue by vroulike take.
Dan onderhou ons die Wet van God.
Jesus, het soos baie ander Skrifgeleerdes geglo
die Wet oor liefde vir God gaan.
Maar anders as hierdie geleerdes
het Jesus liefde vir ons naaste
gelyk gestel aan liefde vir God.
Andersom gesê:
Om jou naaste lief te hê,
is om God ook lief te hê.
Om God lief te hê,
beteken jy moet ook jou naaste liefhê.
Die volheid van die Wet en die Profete,
kom neer op net een ding:
"Doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê".
"Die liefde doen die naaste geen kwaad nie,
daarom is die liefde die vervulling van die Wet"
(Rom 13:10)
Ashton