Seisoene

“As die aandwind saggies teen my wange waai
voel ek weer my skugter jeug-
hoe bloeiselsag het ek ontwaak
om met die stroom
die grootmenslewe
in te vaar.
Eers uitbundig sonder sorg
maar later moes ek leer
dat grootword nie net vreugde dra
maar pyn en
stukkend breek wat later
ruwe letsels laat.
Goddank, U’t my die hele tyd gedra
my voete op die Rots geplant.”

So gaan die seisoene van die mens se lewe verby en voor jy jou kom kry breek die jare aan en jy saam met die Prediker sê :

“EN dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid voordat die ongelukkige dae kom en die jare aanbreek waarvan jy sal sê: Ek het daar geen behae in nie. “
Prediker 12:1.

Tog ken die mens ook soveel vreugde voor hierdie dae aanbreek. Die vreugde van kinders en kleinkinders grootmaak. ‘n Lewe saam met jou geliefdes deur al die fases van hul lewens. Die hoogste sport bereik in jou loopbaan. Die pyn om’n geliefde te verloor en die bitter swaar van ‘n siekbed. Daar was die lief en die leed maar saam met die Psalmdigter kan ons sê:

“'n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.” Psalm 16:6

En as die dae aanbreek waarin ons treë min en stadig raak, ons hande stil in ons skoot bly lê en die kykers nie meer mooi wil sien en ons soms ure net omsit en sluimer-droom, het Paulus vir ons goeie raad:

“Weet julle waaraan julle moet dink in plaas daarvan om julle te sit en bekommer? Dink aan dit wat vir God saak maak, dinge wat ordentlik en reg is, dinge waaraan God sal dink en waarvan Hy sal hou, dinge wat God sal sê goed is. Moenie julle tyd mors om aan allerhande nuttelose dinge te sit en dink nie. Hou julle besig met dinge wat die moeite werd is en wat God in ’n goeie lig stel.”
Filippense 4:8

“As die lig al dowwer raak
en die nag se donker
jou bang maak,
en storms hewig woed
en jy alleen
by ‘n kruispad staan,
wees stil en weet:
Hy is die Heer
wat jou getrou
hierdeur sal dra.”
Gedigte geneem uit: Flentertjies lig.

Marie Boshoff