Twee Moabitiese meisies kom voor ‘n keuse te staan. Seker die mees ingrypendste besluit van hul lewe. Hulle kan kies om na Moab terug te draai waar die mense afgode dien en sodoende hulle weg draai van die ware God wat hulle leer ken het. Of hulle kan saamgaan na Betlehem met Naomi wat hulle geleer het om God te dien. Orpa besluit om terug te keer na haar mense in Moab maar Rut volg haar skoonma na Betlhem:

RUT 1:16” Maar Rut het geantwoord: “Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God”

Rut het die regte keuse gemaak en mooi dinge het vir haar en Naomi gebeur.

Ons sien nie altyd die gevolge van die keuses wat ons maak nie. Dit kring soms baie verder uit as wat ons dink of weet. In hierdie gebeure sien ons duidelik God se hand. Ons lees dat Dawid “die man na God se hart” Moabitiese bloed in sy are het.

Rut :13-17 “Boas het toe met Rut getrou en hy het gemeenskap met haar gehad. Die Here het haar swanger laat word, en Rut het 'n seuntjie in die wêreld gebring. Die vrouens sê toe vir Naomi: “Aan die Here kom die lof toe omdat Hy vandag vir jou 'n losser gegee het. Mag die losser se naam bekend wees in Israel, en mag hy vir jou vreugde bring en jou op jou oudag versorg. Jou skoondogter wat jou liefhet en wat vir jou meer werd is as sewe seuns, het hom in die wêreld gebring.”

Naomi het toe die seuntjie op haar skoot gevat en as haar eie aangeneem.

Haar buurvroue het die seuntjie toe 'n naam gegee. Hulle het hom Obed genoem en gesê: “'n Seun is vir Naomi gebore.”
Obed was die voorvader van Dawid.

Mag ons altyd die Here ken in al die besluite en keuses wat ons moet maak.

Spreuke 3:6 “Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.”

~Marie