Onthou u nog hierdie halleluja liedjie wat ons as kinders gesing het. Ek onthou dit soos gister toe ons almal saam om die traporreltjie gestaan het en uit volle bors gesing het.
Moet ek gaan met leë hande
Moet ek so my Heer ontmoet
nie een siel gelei na Jesus
niks te offer aan sy voet.
Halleluja 234

Wat sal ons dan saamvat om voor die hoë God te staan? Kaalgestroop van alle aardse waan gaan ons voor Hom staan met niks te offer aan Sy voete. Nie eers ‘n siel uit eie krag na Hom gebring.
Niks om op te roem nie.
Dankie Vader ons God het alles klaar gedoen. Elke siel het Hy self na Hom geroep. Handelinge 2:39
“Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.”
Hebreërs 10:14
“Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vrygemaak.
Jesus onse Here was tot in die dood getrou.”
Hebreërs 10:12
Maar Jesus Christus het één offer vir die sondes gebring en vir altyd aan die regterhand van God gaan sit.
Gehoorsaam aan God se wil het Hy die grootste offer gebring wat daar kan wees. Sy bloed laat vloei en Sy liggaam gebreek vir ons sonde dat ons eenmaal rein voor Hom kan staan sonder enige offers van ons kant af. Jesaja 64 sê: “...ons beste dade is soos vuil klere...” Net eenmaal een offer was nodig vir die ganse mensdom en jou en my.
Sonder vrees kan ons nou na God toe gaan met net sy verdienste om aan vas te hou. Hoe onbeskryflik groot is sy genade vir die mensdom.
2 Timoteus4:8
“Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms.”

By monde van: Prof Stephan Joubert:
“Kyk ek agter my, sien ek die kruis.
Kyk ek bo my sien ek die troon.
Kyk ek onder my sien ek die ewige Rots waarop ek staan.
Kyk ek voor my sien ek ‘n kroon.”

Filippense 3:14
Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.

~Marie