"'n Seun eer sy vader
en 'n slaaf sy eienaar.
As Ek dan Vader is,
waar is die eer wat My toekom?
En as ek Here is,
waar is die eerbied vir My dan?"
(Mal 1:6)

Maleagi vaar uit teen die priesters wat afskeep werk doen,
Hulle bring gebreklike diere as offers,
en hou die goeies vir hulleself.
Boonop skeep hulle Woordbediening af,
en leer die volk net wat hulle wil hoor,
eerder as om erns te maak met die Woord van God.
God is eenvoudig nie 'n prioriteit nie.

Dan daag God die priesters uit
om sulke afskeep-diens vir die goewerneur te doen. (1:8)
Wat sal die gevolge nie wees nie?

Soos hierdie priesters,
raak ons dikwels te gemaklik met God se oneindige genade.
God is dan nie meer 'n prioriteit nie.

Vir ons baas of die staatspresident staan ons op aandag,
maar ons stiltetyd moet wag vir 5-minute voor ons gaan slaap,
wanneer ons reeds moeg is.

As ons 'n beroemde persoon gaan ontmoet,
trek ons ons mooiste klere aan,
maar wanneer ons kerk toe gaan,
trek ons aan wat gemaklik is.

Ons koop duur voertuie om ons vriende te beïndruk,
en gee ons oorskiet en ou dinge vir die kerk.

Die Here is heerser oor die heelal,
die almagtige,
die allerhoogste.
Hy is ons Vader!
Laat ons Hom die eer gee wat Hom toekom.

Ashton