"Indien moontlik,
sover dit julle aangaan,
leef in vrede met alle mense"
(Rom 12:18)
Paulus vertel die Romeine dat 'n Christen se gedagtes
heeltemal anders is as "gewone" mense. (Rom 12:2)
Hy wys hulle dan hoe hierdie "nuwe denke" lei tot 'n unieke leefwyse.
'n Leefwyse wat nie kwaad met kwaad vergeld nie,
maar met liefde die kwaad oorwin.
Paulus verstaan dat kwaad nie net van een kant af kom nie.
Dit is bose kringloop:
hou-vir-hou.
Gister hoor ons dat Iran missiele op Israel afgevuur het.
Dit was vergelding vir Israel wat 'n Iranese ambassade aangeval het,
wat vergelding was vir Iran wat anti-Israel militante groepe bewapen,
wat vergelding was vir...
en so weet niemand wie uiteindelik die eerste klip gegooi het nie.
As Christene moet ons weet dat ons geen beheer het oor ander se optrede nie.
Mense gaan ons sleg behandel,
en dit is onregverdig!
'n Christen se denke draai egter nie meer om hom- of haarself nie,
maar om die vrede en liefde wat met God se Koninkryk kom.
Daarom kan ons die bose kringloop van hou-vir-hou breek:
deur nie terug te slaan nie;
deur nie terug te vloek nie;
deur nie terug te skinder nie;
deur nie terug te haat nie.
Al verander dit nie wat ander mense doen nie,
laat ons ons eie paadjie skoon hou!
Ashton