Ons wil tog sekerlik vir Jesus navolg,
veral as hy in Matteus 25 praat van mense wat honger is,
of dors het, wat vreemdelinge is, wat siek of in die tronk is.
Die vraag is of dit net gaan oor “gee vir hierdie mense”?

Natuurlik gaan dit oók oor gee.
Maar blote gee is nooit genoeg nie.
Mens gee ook maklik, net om jou eie gewete te sus.
Paulus skryf in 1 Korintiërs 13
dat al deel ‘n mens alles wat jy het aan armes uit,
maar jy het nie liefde nie,
dan help dit niks.

Om werklik ‘n volgeling van Jesus te wees is ‘n ingrypende saak.
Dit is veel meer as om net die regte dinge te glo.
Dit vra ook van my dat my geloof oorgaan in die regte manier van lewe.
My geloof moet in dade getuig van God se groot liefde vir mense.
Liefde is die sleutel van Jesus se bediening,
en Hy demonstreer hoe dit gedra word deur verhoudinge!
Liefde word gedra deur verhoudinge…..
Liefde word gedra deur verhoudinge!!

Daarom kan Jesus volgelinge nie net uit die oorvloed van hul besittings gee nie.
Hulle moet hulleself in die eerste plek gee,
om met verhoudings hul liefde na ander toe te dra,
en daarmee saam hulle middele, tot seën.

Die armes en die noodlydendes kan nie net ‘n “projek” wees,
waarby ek betrokke is nie.
Die mense wat ter sprake is, is vir die Here oneindig kosbaar!
Deur verhoudings met hulle, dra ek God se liefde na hulle toe!

Daarom kan gevra word:
Het ek ‘n arm vriend?
Nie of ek net van iemand weet wat swaarkry nie,
maar: het ek ‘n verhouding met iemand wat swaarkry?!
Het ek vriende onder haweloses, armes, mense in nood,
mense wat regtig swaarkry?
Dit is die belangrike vraag.

Dit is maklik om afstand te handhaaf deur ‘n projek.
Of deur te gee vir hulle wat dit moet gaan gee…..
Ons liefde vir ons medemens word deur verhoudings na hulle toe gedra.
Moenie net gee nie.
Gaan self!
Gaan gee om, met liefde!

Ernest