"En ek het twee groot kore saamgestel...
...en hulle het groot offers daardie dag gebring,
en hulle het gejubel,
want God het hulle groot vreugde gegee.
Ook die vroue en kinders was verheug.
En die vreugde van Jerusalem
kon van ver af gehoor word!"
(Neh 12:31,43)
God gee aan Sy volk vreugde,
'n Vreugde wat brand in hulle harte!
Dankbaarheid.
Hulle goewerneur, Nehemia, weet wat om met hierdie vreugde te doen.
Hy stel twee groepe musikante aan
om aan weerskante van Jerusalem op te trek.
Die hele stad sing en speel saam.
Die hele stad basuin hulle dankbaarheid uit.
Die hele stad eer vir God.
Musiek in die erediens is nie daar om ons te vermaak nie.
Dit is nie daar vir musikante om te spog met hulle talent nie.
Dit is ook nie net daar om vir ons 'n "boodskap te gee" nie.
Ons elkeen kan getuig van die vreugde wat die Here vir ons bring.
Die vreugde wat hy in ons harte plaas.
Die vreugde wat wil oorborrel.
Musiek is daar om uiting te gee aan daardie vreugde
- die behoefte om vir God te verheerlik.
Musiek is daar,
enkel en alleen,
tot die eer van God!
"Laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon.
Leer en vermaan mekaar,
in alle wysheid,
deur met dankbare harte
psalms, lofgesange en geestelike liedere
tot eer van God te sing.
En wat julle ook al doen,
in woord of daad,
doen alles in die Naam van die Here Jesus,
terwyl julle God die Vader deur Hom dank."
(Kol 3:16-17)
Ashton