Roeping uit die Erediens
"Toe hulle besig was om die Here te dien en te vas,
het die Heilige Gees vir hulle gesê:
'Sonder Barnabas en Saulus vir My af
vir die werk waartoe Ek hulle geroep het.'
Toe die gemeente klaar gevas en gebid het,
het hulle hulle die hande opgelê
en weggestuur."
(Hand 13:2-3)
Soos Paulus en Barnabas in erediens sit,
oortuig die Heilige Gees hulle om die Evangelie aan die heidene te gaan verkondig.
Hulle medegelowiges lê hulle hande op die twee,
as 'n teken van ondersteuning vanaf die hele gemeente.
En so begin Paulus se eerste sendingreis.
Dit begin tydens 'n erediens.
Die Griekse woord wat hier as "dien" vertaal word
is "leitourgeô",
vanwaar ons die woord "liturgie" kry.
Liturgie verwys na al die handelinge tydens die erediens.
Tydens die erediens,
dien ons nie net die Here nie,
die Heilige Gees werk ook binne ons,
hy transformeer ons:
deur die Woord,
deur musiek,
deur gebed,
en deur ons medegelowiges.
Ek en jy het 'n Godgegewe taak in hierdie wêreld.
Hierdie taak kom nie uit eie krag,
of uit eie insig nie.
Wat ons nodig het,
gee die Here vir ons,
veral tydens die erediens:
insig,
ondersteuning van die gemeenskap van gelowiges,
en 'n roeping.
Ashton