"Want God is nie 'n God van wanorde nie,
maar van vrede".
(1Kor 14:33)

Paulus raas met die Korintiërs,
omdat hulle eredienste wanordelik verloop.
Die erediens is tog 'n simbool en 'n beliggaming
van God se werk in hierdie wêreld.
En God werk,
deur orde te skep.

Reeds in Genesis 1 lees ons
dat die wêreld "woes en leeg" was,
maar God skep deur 'n plek vir elke ding te gee.
Hy skep orde.
Hy beveel die volk om in 'n bepaalde formasie
kamp in die woestyn op te slaan (Numeri 2).
Offers moet volgens 'n bepaalde orde gebring word
(Levitikus 1-7)
Esegiël (37-39) sien 'n visioen
van God wat 'n gebroke samelewing herstel,
daarna (40-48) sien hy 'n visioen
van God wat die nuwe samelewing in stand hou,
met Godgegewe orde!

Volgens Paulus is die teenoorgestelde van wanorde:
vrede.
Wanneer daar orde in 'n land is,
is daar vrede.
Wanorde roof die land van vrede.

Wanorde in ons eie lewe,
roof ons van vrede.
Hoeveel keer voel ons nie gedreineer van al ons psigiese energie
as dinge om ons deurmekaar is nie?
Orde het die vermoë om ons energie en vrede te herstel.

Die erediens is 'n mikrokosmos van God se koninkryk.
Om opbouend te wees vir buitestanders,
om God se vrede uit te straal,
om rigting te gee aan ons eie lewens,
móét die erediens ordelik verloop.

"Laat alles egter gepas en ordelik verloop"
(1Kor 14:40)

Ashton