"Jy mag 'n os nie muilband,
terwyl hy graan trap nie".
(Deut 25:4)

Antieke boere het ná 'n oes,
hul koring of gars op 'n dorsvloer gegooi.
Hulle het dan 'n dorsslee aan osse vasgemaak
en oor die koring of gars geloop,
om die strooi van die graan te skei.
Om te keer dat die osse die graan eet,
het hulle die osse se bekke toegebind.

Die Here dink dit is 'n wrede praktyk.
Die os doen al die werk,
hy kan die kos ruik wat hy help om te maak,
maar kan glad nie daarvan eet nie.
Daarom verbied die Here dit!

Hier gaan dit daaroor
om erkenning te gee aan wat ander vir ons doen.
Goeie dade moet beloon word.
Dit is hoe ons dankbaarheid teenoor ander betoon.
En dit gaan oor baie meer as net geld:
'n dankie,
'n aanbeveling,
om in publiek erkenning te gee,
dit alles beloon goeie dade.

Om gehoorsaam te wees aan hierdie gebod,
moet ons op die uitkyk wees vir wat ander vir ons doen.
Ons oë moet oop wees vir die waarde,
wat ander mense tot ons lewens byvoeg.

Ons moet raaksien wat ons ouers vir ons doen,
en hulle daarvoor eer.
Ons moet raaksien wat die sekuriteit of motorwag vir ons doen,
en hulle daarvoor beloon.
Ons moet raaksien die waarde wat ons werknemers
tot ons besigheid of huishouding toevoeg
en daardie waarde met hulle deel.

Ashton