"Ek weet om verneder te word,
ek weet ook om oorvloed te hê;
in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig:
om versadig te word
sowel as om honger te ly,
om oorvloed te hê
sowel as om gebrek te ly.
Ek is tot alles in staat
deur Christus wat my krag gee."
(Fil 4:12-13)
Goedvoel-preke en beloftes van voorspoed,
dis tog so maklik,
dit maak predikers gewild,
en maak dat Christelike boeke goed verkoop.
Maar dit water die Evangelie af,
en maak God se genade goedkoop.
Ander predikers is weer so gewalg
deur voorspoed-teologie,
dat hulle hulself heeltemal daarvan distansieer,
en nooit oor voorspoed preek nie.
Die Bybel is egter vol beloftes van voorspoed.
Elke keer wat die Here ons seën in die Skrif,
sluit hy daarby voorspoed in.
Jer 29:11 sê:
"Ek ken die planne wat ék vir julle beraam,
verklaar die Here,
planne van voorspoed,
en nie van teëspoed nie,
om vir julle 'n toekoms te gee,
en iets om na uit te sien!"
Die probleem is nie voorspoed nie,
die probleem kom as ons nét voorspoed verwag,
sonder uitdagings,
sonder self-disipline,
sonder leed en laste wat oor ons pad kom.
Dit is om die Bybel selektief te lees!
Paulus se woorde aan die Filipense help ons.
Hy (soos elkeen van ons) het al beide voorspoed en teëspoed beleef.
Hy het geleer om tevrede te wees in beide gevalle,
want die Here is by hom in voorspoed,
en in teëspoed.
Voorspoed is op pad,
en ons kan uitsien daarna.
Wanneer die Here dit oor ons pad bring,
kan en moet ons dit geniet!
Dit is wat dankbaarheid is!
Teëspoed gaan ook tref,
dit is 'n werklikheid vir alle mense!
Maar hierin is ons nooit alleen nie.
Die Here versterk ons,
en gee ons 'n hoop,
'n verwagting van beter tye.
Wees tevrede
in voorspoed
en in teëspoed.
Ashton.