"'Soos die Vader my gestuur het,
stuur Ek julle ook'
En hiermee sê hy vir hulle
soos Hy oor hulle blaas:
'Ontvang die Heilige Gees'"
(Joh 20:21-22)
In antieke tye het "gestuur" beteken 'n persoon ontvang 'n sekere taak
en ook vermoë en gesag
om daardie taak te verrig.
'n Koning sou byvoorbeeld een van sy onderdane "stuur",
om belasting in te samel.
Daarmee het die onderdaan die wetlike gesag gekry,
om belasting van ander af te dwing.
Om gestuur te wees,
het beteken jy het 'n sekere taak
en sekere mag.
Jesus was deur die Vader gestuur met 'n taak:
Bevry die Skepping!
Saam met dit het Jesus bo-natuurlike mag en wysheid ontvang.
Jesus vergewe sonde,
genees siekes,
verkondig vryheid en vrede.
Hy haal mense uit die rand van die samelewing,
en plaas hulle voor God se voete.
Voor Jesus opvaar gee Hy die taak,
die missie,
oor aan Sy kerk.
Saam met dit ontvang ons die Heilige Gees
om vir ons die mag te gee om daardie taak te voltooi.
Mag en verantwoordelikheid gaan altyd hand-aan-hand.
Ons het die vermoë om sondes te vergewe,
en die verantwoordelikheid om dit te doen.
Ons het die vermoë wonderlike dinge te skep,
en die verantwoordelikheid om dit tot God se eer te doen.
Ons het die vermoë om met God deur Sy Gees te praat,
en die verantwoordelikheid om vir ander in te tree in gebed.
Die kerk ontvang nie die Heilige Gees ter wille van haarself nie,
Die kerk ontvang die Heilige Gees
om voort te gaan met Jesus se reddingswerk.
"Die Gees van my Heer,
die Here is op my,
omdat die Here my gesalf het.
Hy het my gestuur
om 'n goeie boodskap te bring
aan magteloses,
om dié met gebroke harte
se wonde te verbind,
om dié wat weggevoer is
se vrylating aan te kondig
en bevryding vir dié wat geboei is"
(Jes 61:1)
Ashton