Gebeur daar nog wonderwerke? Regtig?
Dinge wat geen mens met sy verstand of vernuf kan verklaar nie?
Ja, daar gebeur inderdaad daagliks wonderwerke!
Oral oor, deur die hele skepping!
En ook in jou lewe!
God doen daagliks, deurgaans, dinge vêr bo ons begrip.
Paulus sê iets hiervan in Efesiërs 3:20-21:
“Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk,
magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink,
aan Hom kom die eer toe….”
Inderdaad kan mens vir wonderwerke vra,
en op wonderwerke hoop!
Indien jy dit nie wil vra, of daarop hoop nie,
twyfel jy aan die krag van God, en die sin van gebed.
Jy kan inderdaad vra vir iets wat nie menslik verklaar kan word nie,
en slegs deur God se genade en goedheid kan plaasvind.
Ons sien nie die wonderwerke rondom ons raak nie,
omdat ons nie groot genoeg oor God dink nie.
Ons het grensdrade waarmee ons selfs vir God omraam het.
Ons moet hierdie grensdrade nie net verlê nie, maar heeltemal afbreek!
Die teksvers sê tog immers:
God is magtig “om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink.”
Geen wet van oorsaak en gevolg kan God aan bande lê nie!
Om te bid, en wonderwerke te verwag, is twee kante van dieselfde saak!
Die vraag is dus nie of daar nog wonderwerke gebeur nie,
maar of ons God regtig glo!
Die vraag is ook of ons dit as wonderwerke van God sal herken, en erken?!
God doen inderdaad groot wonderwerke in my lewe!!
Ernest