“Moet my nie Naomi noem nie,
noem my Mara,
want die Almagtige het dit vir my
baie bitter gemaak."

Naomi beteken "soet" .
Mara beteken "bitter".
'n Mens kan Naomi se bitterheid verstaan.
Haar man en beide haar seuns is dood.
Sy is nou 'n weduwee met geen heenkome.
Sy sal moet bedel vir die res van haar lewe.

Maar sy vergeet:
die Here se plan met haar lewe is nog nie verby nie.
Hy gee vir haar 'n baie lojale skoondogter.
En aan die skoondogter gee Hy 'n getroue man,
wat beide vroue in neem in sy huis.
Hy gee deur Rut vir Naomi kleinkinders,
en 'n nageslag wat tot Dawid,
en uiteindelik Jesus,
lei.

Naomi se storie is dieselfde as Job s'n,
en Josef s'n,
en Daniël s'n,
en Dawid s'n.

Die lewe is vol seer.
Ons gaan baie terugslae beleef.
Baie verlies.

Maar ons het 'n keuse.
Ons kan verbitterd raak,
en die lewe ondraaglik maak vir dié om ons.
Of ons kan saam met Job bely:

"Die Here het gegee,
en die Here het geneem:
laat die Naam van die Here geloof word!"
(Job 1:21)

Ashton