"Ek moedig julle daarom aan -
ék, 'n gevangene in Christus -
om julle waardig te gedra
aan die roeping waarmee julle geroep is:
met alle nederigheid en sagmoedigheid,
met lankmoedigheid,
deur mekaar te verdra in liefde,
terwyl julle julleself ywerig toelê,
om die eenheid van die Gees te bewaar,
in die band van vrede."
(Ef 4:1-2)
In Paulus se tyd was daar van mense verwag
om op te tree "waardig" tot hul sosiale status en amp:
Ou mense mag nooit gehardloop het nie;
offisiere moes hulle voete stamp soos hulle loop;
adellikes moes duur kleure dra;
Paulus skryf 'n brief aan die Efesiërs
om te verduidelik dat God die hele skepping,
in Jesus Christus verenig het:
Jode en nie-Jode,
mans en vroue,
slawe en hul eienaars,
sondaars en heiliges.
As Christus dan die Groot Hereniger is,
dan moet die kerk Sy liggaam ook één wees.
Christene moet daarom op 'n manier optree,
wat daardie eenheid ten alle koste bewaar.
Paulus gee 3 eienskappe wat Christene moet hê
om die eenheid wat tussen hulle is te bewaar.
Eerstens moet ons nederig wees.
Nederigheid het beteken jy gun ander meer "eer",
as vir jouself.
Dit beteken jy beskou jouself as "minder belangrik",
as jou mede gelowiges,
en ken 'n "lae sosiale status" aan jouself toe.
Tweedens moet ons sagmoedig wees.
Sagmoedigheid is om nie iemand seer te wil maak nie,
al verdien hulle dit.
Dit is om genade,
bo "geregtigheid" te kies.
Derdens moet Christene "lank van draad" wees.
Christene moet stadig wees om kwaad te word,
mekaar kan verdra
en nie afgesit word deur mekaar se irriterende gewoontes
en slegte eienskappe nie.
Christus verenig die hele skepping met God!
Mag sy liggaam, die kerk, daardie eenheid weerspieël!
Ashton