"Hierdie sê en betuig ek daarom in die Here:
dat julle nie langer moet wandel,
soos die heidene wandel nie -
met die leegheid van hulle verstand."
(Efes 4:17)
Baie mense gee hulself net oor aan hulle natuurlike instinkte en drange.
Gewoontes en begeertes bepaal hulle gedrag.
Volgens Paulus is die probleem dat hulle verstand "leeg" is.
Hulle weet eenvoudig nie van 'n beter lewenswandel nie.
Antieke filosowe het agtergekom dat "goeie" mense
ook verstandige mense is.
Goeie mense het 'n lewensfilosofie en weldeurdagte waardes waarvolgens hulle optree.
Paulus maan daarom die lesers aan
om hulle verstand te "vul" met Christus,
om die waarheid van Christus te ondek,
om uit te vind watter soort God Hy is,
want daarin lê 'n goeie lewenswandel!
Die doel van Bybelstudie,
is om meer en meer te ontdek watter tipe God ons God is.
Dit is om ons gedagtes te vul,
met God se gedagtes.
Die gevaar is natuurlik dat ons ons eie gedagtes
in die Bybel inlees.
Ons kry dan "bevestiging" dat God dink soos ons reeds dink.
Dit is om God na ons eie beeld te skep.
Wanneer ons werklik die Woord van God ontdek,
moet ons eintlik 'n bietjie ongemaklik voel.
Geestelike groei deur die Skrif
gaan gepaard met ontnugtering op ontnugtering.
Ons ontdek God is nog groter en meer misterieus
as wat ons voorheen gedink het.
Ons leë verstand word al hoe meer gevul,
al hoe meer gerek.
Ashton