"Want onherroepbaar
is die gawes
en die roeping
van God"
(Rom 11:29)

Die Griekse woord vir "roeping"
beteken soveel keer meer as die Afrikaans.
Dit het 3 dimensies:
iemand se klas,
iemand se naam,
iemand se taak.

Die Grieks is "klêsis",
vanwaar die Latyns "classis" kom,
vanwaar ons die woord "klas" kry.
Antieke kulture het mense opgedeel
in sosiale, ekonomiese en godsdienstige "klasse".
Jou klas het alles in jou lewe bepaal:
met wie jy kan trou,
watter menseregte jy het,
wat jy mag besit,
en watter werk jy mag doen,

Christelike "roeping" beteken ons kry 'n nuwe klas,
'n nuwe status,
'n heilige status -
"kinders van God".
En daarmee saam kry ons al die voorregte van hierdie "klas".

Roeping het ook nou verband gehou met jou "naam".
In Genesis 1 waar God die lig "dag" noem,
en die donker "nag" noem,
staan daar letterlik :
"God het die lig geroep tot 'dag'
en die donker tot 'nag'"
Vir antieke mense was 'n naam,
ook 'n titel
en 'n profesie oor hoe jou lewe sal wees.

Ons roeping verwys na die naam "Christen",
wat net 'n verkleiningsvorm van "Christus" is.
Ons roeping is om klein Christussies te wees.

En dit bring ons by ons taak...
Ons taak is dan om te doen wat Christus gedoen het:
verkondig die Evangelie,
vergewe sondes,
verlos mense van hulle bande!

Die roeping wat God vir ons gee,
sal ons nooit verloor nie!

Ashton