"Op die stoel van Moses,
sit die skrifgeleerdes en die Fariseërs,
daarom moet julle alles wat hulle sê
doen en onderhou,
maar moet nie volgens hulle voorbeeld optree nie,
want hulle praat,
maar hulle doen nie"
(Mat 26:2-3)
Jesus gaan voort om sy dissipels aan te raai
om niemand aan te spreek as "rabbi" (v8)
of "vader" (v9)
of "leermeester" (v10) nie,
want uiteindelik is net God ons leraar.
Deur die eeue, en vandag nog,
het mense baie status aan die "amp" van 'n predikant geheg.
Mense tree op hulle beste op as die dominee in die geselskap is,
en voornemende werknemers moet 'n getuigskrif van die dominee af kry.
Sommige predikante word bederf met gunsies en geskenke.
Jesus sê dit hoort nie so nie!
Geen predikant dra die gesag van God nie.
Die buitengewone respek wat ons vir predikante moet hê,
is vir die taak wat hulle doen,
die Woord wat hulle verkondig,
en nie vir die persoon self nie.
Die volle titel vir 'n dominee is:
"Verbi Domini Minister" -
bedienaar van die Here se woorde.
'n Dominee is nie 'n self-help-goeroe nie.
'n Dominee is nie 'n motiveringspreker nie.
'n Dominee is nie geestelike toergids nie.
God se Woord gee ons die wysheid om onsself te help.
God se Woord bemoedig en motiveer ons.
God se Woord en Gees lei ons deur ons Aardse reis.
'n Dominee se taak is om die hierdie woorde
so suiwer en opreg as moontlik oor te dra.
In soverre predikante dit doen,
moet ons die hoogste agting hê vir wat hulle sê!
Maar buiten dit,
moet ons hulle sien as gewone gelowiges.
Ashton