Waarvoor moet ons bid?
Vir wie moet ons bid?
Wanneer moet ons bid?
Hoe moet ons bid?
So kan ons aanhou vrae vra oor gebed,
en nie by gebed uitkom nie!
Eintlik mors ons baie gebedstyd met al hierdie vrae oor gebed.
Dit weerhou ons eintlik van bid.
Bid net!
Raak rustig in die teenwoordigheid van die Here,
en begin net met Hom praat.
Hy sal jou in die gesprek lei!
Name en feite maak nie soveel saak nie.
Die wonder is om te ontdek hoe God jou in gebed lei,
na dinge en mense toe, waaraan jy gladnie eers sou dink nie!
Wanneer hierdie gesprek met God op dreef kom,
sit Hy self name en dinge op jou gemoed, en bid die Gees deur jou!
Helmut Thielicke skryf ‘n boek oor die Ons Vader gebed en sê dit is ‘n gebed
wat die hele wêreld omspan.
En kyk net hoe eenvoudig is die gebed wat die Here ons leer!
God sal self die gesprek stuur.
Bid net!
Gebed is ‘n goddelike kettingreaksie.
Die Vader luister.
Die Here Jesus pleit aan sy regterhand vir ons.
Die Heilige Gees vertaal ons menslike woorde in Goddelike terme.
Waar is daar ‘n wonderliker belofte as die een van Jesus self in Lukas 11:9-10?
“Vra, en vir julle sal gegee word.
Soek, en julle sal kry.
Klop, en vir julle sal oopgemaak word.
Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry;
en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.”
Bid net !!
Ernest