"Wees goedhartig teenoor mekaar,
meelewend,
deur mekaar te vergewe,
soos God in Christus ook julle vergewe het."
(Efes 4:32)

Mense maak ons soms seer,
baie seer.
En dan is ons kwaad vir hulle,
en hulle verdien dit.

Dit gebeur soms dat daardie persoon werklik rou het
oor wat hulle ons aangedoen het.
Die skuld-gevoelens teer aan hulle,
die kloof wat hul optrede tussen ons en hulle gebring het,
is 'n straf en 'n pyniging -.
'n straf wat net gelig sal word,
as ons daardie persoon vergewe.

Die langer ons kwaad bly,
die langer sal hulle seer kry.

Daarom maan Paulus ons aan om meelewend te wees met die ander persoon.
Hy sê trouens:
"Sit jouself in die ander persoon se skoene,
en wees vir hom,
wat Christus vir jou is."

Die woord vir "goedhartig" (Chrestos),
is juis 'n woordspeling op "Christus".

Hoe misbruik ons nie die Here se vertroue nie,
Hoe doen ons Hom nie onreg aan,
deur Sy skepping, sy kerk, sy mensdom,
skade aan te doen nie.
Watter skade doen ons nie aan Sy eer,
as ons as Sy liggaam sleg optree in die oë van mense nie?

Hoe pla dit ons dan nie -
die wete dat God vir ons kwaad is?
Hoeveel verligting bring dit nie,
as Hy ons vergewe.
Weer,
en weer,
en weer.

"Indien jou broer teenoor jou sondig,
straf hom,
en indien hy hom bekeer,
vergewe hom!"
(Luk 17:3)

Ashton