"En die apostels sê toe vir die Here:
'Vermeerder ons geloof',
maar die Here sê:
'Indien julle geloof gehad het,
soos 'n mostertsaadjie,
sou julle vir hierdie moerbeiboom sê:
'ontwortel en word geplant in die see!'
en hy sou julle gehoorsaam'"
(Lukas 17:5-6)

'n Algemene misverstand is dat Jesus sê
dat ons bo-natuurlike kragte gaan kry
as ons geloof net sterk genoeg is.
"Hou net aan glo!"
En as ons dan nie kry nie,
is dit omdat ons nie hard genoeg geglo het nie!

Dit het al gebeur dat mense hulle dialise-behandeling staak,
omdat hulle dink dat as hulle net hard genoeg glo,
sal die Here hulle genees.
En dan sterf hulle.

Jesus se punt is juis dat nie een van die dissipels,
hierdie soort geloof het nie!
Hulle vra die Here vir "nog meer" geloof,
maar Jesus sê vir hulle dat hulle huidige geloof
niks is om oor huis toe te skryf nie.

Jesus is besig om te praat oor vergifnis,
en geregtigheid.
En dan val hulle hom in die rede,
en vra vir meer geloof!?

Sien, die dissipels het "roemreg" gesoek,
hulle wou "beter" gelowiges word -
Hulle wil hulleself op die skouer klop
en sê:
"knap gedaan, goeie gelowige,
jy het alles gedoen wat die Here van jou vra!"

En nou dink die dissipels meer geloof
gaan vir hulle daardie klop op die skouer verdien.

Niemand het daardie soort geloof nie,
en dit maak nie saak nie!
Die Here wil eenvoudig hê dat ons:
mense vergewe,
reg doen,
God gehoorsaam,
mekaar liefhê.

"En al het ek die geloof
om berge te versit,
maar ek het geen liefde nie,
dan is ek niks!"
(1Kor 13:2)

Ashton