"En toe sê die mans van Israel vir Gideon: 'Heers oor ons! jy en jou seuns en die seuns van jou seuns, want jy het ons gered uit die hand van die Midianiete' Maar Gideon sê vir hulle: 'Ek sal nie oor julle heers nie, en my seun sal nie oor julle heers nie. Die Here heers oor julle!'" (Rig 8:22-23) Gideon verstaan iets van mag. Dit is so aanloklik. Dit trek mens in. Mens raak dronk daarmee! Hy verstaan dat goeie mense dit weier. Vir slegte mense is dit soos 'n magneet. Gideon het dit wel reggekry om die versoeking te weerstaan, maar die aansien wat hy geniet het, was vir hom te kosbaar. Hy begin daarom 'n kultus wat rondom hom en sy huisgesin draai. Na sy dood, wil die Israeliete sy seun Abimeleg koning maak. Abimeleg is 'n slegte mens, wat mag ten alle koste vir homself toeëien. Hy maak sy sewentig broers dood, net Jotam ontsnap die slagting. Na 3 jaar as 'n self-aangestelde diktator, 3 jaar van chaos, sterf hy in 'n burgeroorlog. Jesus leer Sy dissipels om nooit mag of aansien te begeer nie. (Mat 23:11-12) Om "groot" te word, moet ons "klein" word. Ons roeping lê in diensbaar wees, gehoorsaam wees, nuttig wees. Nie om baas te speel oor ander nie! "Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het Sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word." (Fil 2:5-7) Ashton