"Die wyse moet nie spog oor sy wysheid nie,
die held moet nie spog oor sy heldadigheid nie,
die ryke moet nie spog oor sy rykdom nie,
want slegs hierin kan die een wat spog, spog:
om insig te hê,
om My te ken,
dat Ek die Here is,
Hy wat betoon:
liefde
geregtigheid,
en regverdigheid,
want oor hierdie dinge is Ek bly!"
(Jer 9:23-24)

Antieke kulture het geglo alles op aarde is beperk,
ook die eer wat iemand ontvang.
Dit is soos 'n Pizza,
die meer stukke jy vir jouself vat,
die minder is daar vir ander.

Die Hebreeuse woord vir "spog"
beteken letterlik om jouself te loof,
om eer vir jouself toe te eien.
Dit kom van dieselfde stam af as "Hallelu-Ja"
("Ja" is kort vir "Here")

Die Bybel waarsku ons daarom om nooit te spog
oor wat ons bereik het nie.
Want alles wat ons bereik het,
kom uiteindelik van die liefde,
geregtigheid en regverdigheid
van die Here af.
Net Hy moet daarvoor eer kry!

Dit gebeur soms dat ons heel vroom sê:
"dit is net aan die Here te danke",
of ons lewer getuienis van hoe goed God vir ons is.
Dan bedoel ons eintlik:
"kyk hoe vroom is ek,
dat ek God verheerlik vir al my goed".
Dan steel of Sy eer,
ons vat 'n stukkie Pizza,
en God se deel raak dan kleiner.

Om alleen aan God die eer te gee,
eis twee dinge van ons:
1) om vir God eer te gee,
2) om seker te maak ons vat nie enige van daardie eer vir onsself nie.

En hoe gee ons vir Hom daardie eer?
Deur aan die wêreld te wys watter tipe God ons God is.
Deur dieselfde liefde, geregtigheid en regverdigheid,
te betoon as Hy.

"Laat julle lig voor die mense skyn
op so 'n manier dat hulle julle goeie werke sien,
en julle Vader in die hemele verheerlik!"
(Mat 5:16)

Ashton