"Hulle dink dat godsdiens 'n manier is
om wins te maak.
Groot wins lê egter in godsdiens
saam met self-vergenoegdheid"
(1 Tim 6:5-6)
Mense het al duisende jare terug agtergekom
dat godsdiens gebruik kan word
om groot geld te maak!
Ook die dwaalleraars waarmee Timoteus te doen het,
verlei mense met vroom godsdienstige praatjies
en tap dan geld uit hulle uit.
Vandag nog is daar kerke en predikante wat dit doen.
Hulle speel op mense se skuld-gevoel.
Hulle belowe voorspoed.
Hulle manipuleer verhoudings.
Hulle bevriend al die rykste mense in die gemeenskap.
Alles om meer en meer geld te maak!
Paulus gee die oplossing:
self-vergenoegdheid.
Die Grieks is "autarkeia" -
een van die belangrikste deugde
volgens antieke filosowe.
Autarkeia het beteken om vir jouself te kan sorg,
maar ook om nie 'n las op ander te wees nie -
om tevrede te wees met wat jy het,
sonder om meer en meer vir jouself toe te eien.
Die oomblik wat godsdiens oor geld gaan,
het dit pervers geword.
Die oomblik wat 'n prediker of kerk sê:
"Meer!
Gee nog meer!"
Moet jy jouself daarvan onttrek.
'n Ware dienaar van God,
is tevrede met wat hulle het,
en sal jou nooit druk vir meer
as wat jy met 'n oop gemoed kan gee nie!
"Want 'n wortel van alle kwaad
is die liefde vir geld,
wat sommige mense deur dit te begeer,
weggelei het van die geloof,
en hulle het hulleself deurboor met baie pyne.
Jy dan,
o mens van God,
vlug weg van hiervan!"
(1Tim 6:10-11)
Ashton