Op Goeie Vrydag het God met die dood afgereken, in Christus!
Die gevoelens wat die dood in ‘n mens losmaak is onbeskryflik.
Al het jy dit al gesien, bly dit wat jouself betref, ‘n geheimenis.
Wanneer? Hoe?....die finaliteit daarvan.
Na Goeie Vrydag en Paasfees weet gelowiges egter dat ons lewe
uit God is, en deur God is, en tot God is.
Romeine 11:36.
Na ons dood is ons lewe nog steeds uit God,
en deur God, en tot God!
Wanneer ons dus met God praat,
praat ons met Hom in Wie se hande ook hulle is wat reeds gesterf het!
God ken hulle, en ons.
Hy bewaar hulle, en ons.
Die dood verwyder nie ‘n kind van God van die teenwoordigheid van God nie.
Jesus sê juis op Goeie Vrydag vir die man wat saam met Hom gekruisig is:
“Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”
En vir die wat nog lewe skryf Paulus in Romeine 8:38:
“Hiervan is ek oortuig: geen dood ….kan ons van die liefde van God skei nie…”
Treffend is die inskripsie op ‘n grafsteen in die begraafplaas van Calixtus.
Dit dateer uit ongeveer 250 AD.
ALEXANDER MORTVVS NON EST, SED VIVID SUPER ASTRA. IN CHRISTO.
“Alexander is nie dood nie, maar lewe anderkant die sterre. In Christus!”
Op Goeie Vrydag het God met die dood afgereken!
In Christus!
Ernest