"Wees versigtig vir valse profete,
vir enigiemand wat na julle kom
met klere van skape,
maar van binne is hulle verskeurende wolwe!
Vanuit hulle vrugte
sal julle hulle herken
Julle pluk tog nie druiwe vanaf 'n doringbos,
of vye vanaf 'n distel nie?"
(Mat 7:15-16)

Ervare beleggers het al geleer
om nie 'n maatskappy se finansiële state te vertrou nie.
Rekenmeesters werk "kreatief" met syfers
om die maatskappy rooskleurig vir beleggers te laat lyk.
Ervare beleggers kyk eerder na die kontantvloei
deur die maatskappy se bankrekening.
Dit wys die ware stand van sake.

Jesus waarsku ons om nie na mense se
vroom woorde en leë beloftes
te luister nie.
Wat uiteindelik saak maak
is hoe daardie mense optree.
Goeie mense tree goed op
en hoef nie verskonings te maak nie.
Slegte mense tree sleg op
en maak heeltyd verskonings.

Maar dieselfde geld vir ons!
Dit help nie ons sê ons glo,
maar dan tree ons net soos ongelowiges op nie!
Dit help nie ons sê ons is lief vir ons vyande,
en help hulle nie uit hul nood nie!

'n Gesonde vrugteboom,
sal goeie vrugte lewer.
'n Gesonde besigheid,
sal tasbare wins lewer.
'n Gesonde siel,
sal goeie optrede lewer.

"Indien 'n broer of 'n suster
kaal sou wees
en hul daaglikse voedsel kortkom,
en een van julle dan vir hulle sou sê:
'Gaan in vrede!
Word warm en word versadig!'
Maar julle gee nie vir hulle
wat hul lywe nodig het nie,
Wat help dit?
Op dieselfde manier
is die geloof op sy eie dood,
indien dit nie optrede het nie."
(Jak 2:15-17)

Ashton