"Laat elke persoon aan gesagte onderworpe wees,
want daar is nie 'n gesag,
wat nie van God af kom nie.
Dié wat daar is,
is deur God aangestel.
...want ('n heerser) is God se dienaar
vir jou ten goede."
(Rom 13:1,4)

In die begin het God die hemel en die aarde geskep
deur orde in te stel!
Hy het lig van donker geskei,
lug van die see,
die see van die droë grond.
En aan elke "orde" het Hy 'n heerser gegee,
die son oor die dag,
die maan oor die nag,
visse oor die see,
voëls oor die lug,
diere oor die land.
En om oor dit alles te heers,
het Hy mense gemaak!

Sonder iemand wat orde onderhou,
verval die wêreld gou weer in chaos.
As die verkeer nie gereguleer word nie,
sal ons konstante verkeersopeenhopings hê.
As konstruksie nie beheer was nie,
het geboue kort-kort ingetuimel.
As ons geld-eenheid nie beheer was nie,
het ons met buite-beheer inflasie gesit.

Daarom gee die Here vir ons leiers,
mense wat aan stuur van die orde van 'n land is.
Hulle het 'n belangrike taak -
'n taak wat God self vir hulle gee.

Natuurlik is hierdie mense ook dikwels korrupte mense.
Paulus skryf hierdie woorde juis aan die Romeine,
dieselfde gemeente wat 'n paar jaar daarna vir leeus gevoer was,
omdat die keiser hulle valslik van brandstigting beskuldig het.

Die Here verwag nie van ons
om saam met die regering te stem nie.
Die Here vewag nie van ons
om van die regering te hou nie.

Die Here verwag van ons
om saam met die regering te werk
om orde en voorspoed in die land te bewerkstellig!

Dit eis dat ons:
belasting betaal;
landswette gehoorsaam;
en voordurend vir die regering bid!
(vgl. 1Tim 2:1-9)

Ashton