"Kyk hoe mooi en hoe aangenaam
is broers wat saamwoon,
en dan nog in eenheid ook.
Soos lekker-ruik olie
wat van die kop af,
afloop oor die baard,
die baard van Aäron,
wat afloop op die
oor die some van sy klere,
soos die dou van Hermon wat afloop,
oor die berge van Sion,
want daar beveel die Here die seën:
'lewe tot in ewigheid!'"
(Psalm 33)
In antieke Israel het mense hul gaste "geseën"
deur lekker-ruik olie oor hul koppe uit te gooi.
Die meer olie gebruik word,
die groter is die seën.
Volgens hierdie Psalm is samesyn
tussen familie en vriende,
'n oorvloedige groot seën van die Here.
Dit beteken nie dat ons oor die weg gaan kom
met alle mense nie.
Dawid se broers het neergesien op hom,
Jesus se dorpsmense wou hom van 'n krans afgooi,
Paulus en sy mede-apostels, Barnabas en Markus,
het uiteindelik padjies geskei,
omdat hulle nie saam kon stem nie.
Maar ten spyte hiervan het die Here elkeen
geseën met mense waarmee hulle in eenheid saam kon werk.
Dawid het Jonatan gehad.
Jesus het sy geliefde dissipel, Johannes gehad.
Paulus het sy getroue volgelinge Timoteus en Lukas gehad.
So ook seën die Here elkeen van ons,
met 'n lojale vriend,
'n getroue eggenoot,
'n ondersteunende kollega,
'n medegelowige wat ons staande hou,
wanneer die lewe ons wil onderkry.
Laat ons kyk na die mense in ons lewe.
Na die mense waarmee ons goed oor die weg kom.
Na die mense wat ons lewe soveel keer beter,
soveel keer meer aangenaam maak.
Laat ons die Here dank vir hulle,
want hulle is 'n seën van die Here!
Ashton