"Deur 'n tekort aan hout,
word 'n vuur geblus.
Deur 'n tekort aan opstokery
hou rusie op"
(Spr 26:19)

Soms raak ons kwaad,
baie kwaad!
En nie sonder rede nie:
Mense sê ons sleg,
hulle tart ons uit!
Politikusse stook rassehaat aan,
en kom weg daarmee!
Ons word besteel, belieg en beswadder,
en soms voel dit of daar geen geregtigheid is nie.

Dit is genoeg om van te ontplof!

Al hierdie dinge is egter net vonkies.
Op hulle eie
kan hulle niks afbrand nie.
Die skade kom wanneer ons vir die vuur brandstof gee:
wanneer ons reageer op die uittarting;
wanneer ons terug-vloek;
wanneer ons terug-beswadder.

Dan begin almal in der haas
meer-en-meer hout op die vuur gooi.
Die groter die vuur,
die meer dinge word aan die brand gesteek.
Die vuur raak dan buite beheer
en sal nie ophou om te verteer,
tot alles verwoes is nie!

'n Vuur kan ook binne ons woed,
wanneer ons dit voer met gedagtes,
met slegte herinneringe,
met verwyt.
Dan is dit ons eie siel,
wat brandskade ly.

Maar daar is 'n maklike oplossing:
vat net die brandstof weg!
Moenie op uittarting reageer nie.
Moenie terug slegsê nie.
Moenie top oor dit wat jou kwaad maak nie!

En gooi dan water op die smeulende vuur wat oorbly.
Draai die ander wang.
Komplimenteer dié wat jou slegsê.
Bid vir dié wat jou te na gekom het.

"Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie,
maar oorwin die kwaad deur die goeie."
(Rom 12:21)

Ashton